Presies twee maande gelede land ek en Muir op Thambo lughawe na amper
drie weke in Suriname. Voordat die De Wet broers Ongemak se anker laat
sak het in die mooie Suriname rivier, het ek nie geweet van hierdie
klein unieke landjie aan die noordpunt van Suid Amerika nie.

“Tussen seevaarders leer mens EEN  ding: leef vir die oomblik, verlustig jou in vandag” – Pix de Wet

Om Suriname deur Ongemak te ervaar, is ‘n belewenis. Ek ken Ongemak van haar geboorte af, maar dit was vir die eerste keer my huis vir ‘n ruk. Om in hierdie ruimte te bly, moet jy fiks wees, nie vet nie, en baie kan
lag.

Inleidend: Muir is die heelbeste toergids, Oloff die heelbeste gasheer.
Die vlug was lank, maar Muir het gesorg dat ek baie drink en baie beweeg
om my enkels dun te hou! Oloff het ons op die lughawe ontmoet. Hierdie
klein, stil, rustige lughawe is so ‘n halfuur se ry ten suide van
Paramaribo, die hoofstad. Die oomblik as jy in hierdie klein land aankom,
is jy op ‘n ander planeet, ‘n planeet van woude en water EN woude en
water, en Hollands. Selfs op alle kennisgewingborde bly dit die enkele
taal.

Ongemak lê rustig geanker in die Suriname rivier tussen omtrent nege
ander seiljagte. Die broers sê hul boot is die heelbeste. Ek stem saam;
kleinerig vergeleke met ander luuks fabriek-vervaardigde bote, met geen
onnodige fieterjasies nie.

Die bote wat hier voor die lieflike Ocean Breeze Yacht Club lê, het
elkeen sy eie dingy om die land mee te bereik. Elke oggend is die roetine
min of meer: die broers kruip uit hul onderskeie ruim slaapkajuite. Ek
word in my domain wakker. My ruim slaapruimte is in die sitkamer op een
van die banke. Wie kan nou lekkerder slaap as dit? Met die inkruip word
jy sagkens aan die slaap gewieg en naby jou waai ‘n klein draagbare
waaiertjie jou koel. Ek kry my eerste koppie oggendtee en ‘n ruk daarna
heerlike growwe muesli in n glas. Ek verstom my opnuut met hoe min mens
in ‘n kombuis kan klaarkom. Alles in die klein oopplan kombuis is binne
arm-lengte: stofie, wasbak, yskas, eetgerei, speserye. En as jy seil, en
dit hobbel, is daar handige vashou-plek terwyl jy met die een hand roer!

Na ontbyt is dit storttyd om die komende dag se klam tropiese hitte weg
te hou. Oorgewig passasiers sal maar in die rivier moet was, want die
stort-ruimte is ‘n eina-klein spasie naby die toilet, maar absolute
weelde sonder waterbeperking!

Elke oggend is daar ‘n uittog land toe om die land te verken, bier te
drink, en iets interessants te eet. Uit Ongemak se woongedeelte ‘n paar
steil trappe tot op die dek, dan weer steil af om op die dobberende dingy
te kom. Ek balanseer mooi en gaan sit muisstil. Aan wal word hierdie
prosedure omgekeer. Nou balanseer ek weer om uit die wiegende dingy te
kom! My voet land veilig op ‘n lang houtdek, dan weer trappe, en dan….’n
salige koue bier op die hoë stoep van Ocean Breeze.

Vir ‘n paar dae het ons ver geseil al met ‘n sytak van die Suriname, die
Kommewijn. Was ek benoud? Aanvanklik seker, maar dan kom die pure genot as ek sien hoe behendig vier hande Ongemak rigting gee.

As jy jouself nie vind op ‘n vaart op Ongemak nie, sal jy jouself nooit
vind nie….ligte bries, seile wat uitbol, kabbelende golwe, kleurvolle
papegaaie teen die lug, voëlgesang, ape wat baldadig spring van hemelhoëbome, sterre waaraan jy kan raak…

Tussen seevaarders leer mens EEN  ding: leef vir die oomblik, verlustig
jou in vandag, want wie weet nou hoe die gety en winde môre gaan wees,
of jy wel môre kan seil, miskien eers oormôre….